Ile de France is die ALLES-IN-EEN ras, en daarom die nommer een vir kruisteling. Die Ile de France besit ‘n sterk erfdwang en die ramme dra hul uitstaande bouvorm, spierontwikkeling en vinnige groei baie sterk oor op hul nageslag. Hierdie eienskappe maak die Ile de France ram baie gewild vir die produksie van slaglammers en lewer ‘n groot bydrae tot kwaliteit vleis. Ile de France kruisooie is geweldig sterk in aanvraag omrede hulle hoë vrugbaarheid, goeie melkproduksie en uitstaande moedereienskappe besit.
Die Ile de France produseer ‘n wit wol sonder gekleurde vesel en het ‘n aanvaarbare sterk wol van tussen 23 – 27 mikrons. Twaalf maande vagte van ooie weeg 3 – 4,5kg en die van ramme 5 – 6kg met ‘n stapellengte van tussen 80 en 90 mm. Eerste kruise met Merino-ooie lewer ‘n uitstekende medium wol.