Geskiedenis

Ile de France in Suid Afrika

Die geskiedenis van die Ile de France in Suid-Afrika kan teruggevoer word na ‘n geskenk van ‘n aantal skape deur ene Madam Arnaud Ginchard aan die “Boere mense van Suid-Afrika” in 1903 (De Panillac 1903). Die skape was afkomstig uit die kudde van die beroemde teller Delacour van Gouzangrez. Dit is nie bekend hoeveel skape geskenk was nie. Die skape is op 23 Maart 1903 te Tafelbaai hawe vanaf die Concordia ontskeep nadat hulle deur ‘n veearts ondersoek is. ‘n Foto van ‘n Ile de France ram in die Cape Argus van 29 April 1903 het verskyn toe die kwarantyn verstryk het. Dit is nie bekend wat verder van die skape geword het nie.

Gedurende die jare dertig was daar in Suid-Afrika groot belangstelling in die teling van die slaglammers vir uitvoer. Verskeie bekende vleisrasse is deur die Departement Landbou en ander organisasies in die land bekend gestel. Dit was ook gedurende die tydperk dat kruisteelt programme, wat gelei het tot die ontwikkeling van die rasse soos die Dorper, Dormer, Dohne ens., in aanvang geneem het (amper soos ‘n honderd jaar vantevore toe
die Ile de France geteel is).

Mnre. Frasers Beperk het ‘n aantal Ile de France ramme kort na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ingevoer. Die ramme is na hulle plaas Aanvang in die Wepener distrik geneem en met Merino ooie gekruis. Die kruising was besonder suksesvol. Van die ooie (33) is aan die Navorsingsinstituut in Pretoria vir verdere navorsing geskenk. Die diere het besonder goed presteer t.o.v. die volgende eienskappe: teelseisoen duur, lampersentasie,
melkproduksie, oorlewingsvermoë en aanpasbaarheid by ongunstige klimaatstoestande. As gevolg van die oorlog was verdere invoere nie moontlik nie. Dit het nog 30 jaar geduur voordat die Ile de France weer in Suid-Afrika gesien is…

Gedurende die 1930’s en 1970’s is die Ile de France weer ingevoer vir navorsingdoeleindes. Die eerste invoere vir teeldoeleindes is in 1972 deur privaat telers gedoen. Verdere invoere het die ras in Suid-Afrika gevestig.

Die Ile de France Telersgenootskap van Suid-Afrika is in 1980 gestig.